Do Not Buy Blind-Moenie Blind Koop Nie-2017-04-10

Do Not Buy Blind-Moenie Blind Koop Nie-2017-04-10

MOENIE BLIND KOOP NIE!

Vendor Declaration/ Verkoopsverklaring:

VERKOPERSVERKLARING-OJD-Opgedateer-Maart-2017

Gareth Bath, Professor Emeritus, Onderstepoort, Sameroeper Kleinvee Gesondheids Advies-Liggaam en Voorsitter: Veewelsyn Koördineerings Komitee (LWCC)

Die aankoop van vee by veilings gaan gewoonlik met opgewondenheid en verwagtinge van veeverbetering gepaard. Die dag word geniet, die mededinging met ander kopers is opwindend, boere bespreek die diere met hulle eweknieë, besigtig die vee te koop en kry hopelik die regte diere teen die regte prys. As hulle werklik die beste teeldiere wil bekom kyk hulle eers na die katalogus vir toepaslike teelinligting soos mikrons, skoonvaggewig, GDT, tweelinge, teelwaardes en dies meer voordat hulle na die ramme en ooie kyk. Nog beter as die kuddeprestasie syfers van die verkoper se diere beskikbaar is en ondersoek kan word. Dit is alles goed en reg, maar …. soms kry die koper later ‘n baie onaangename verassing van ‘n siekte wat tydens die aankoop ewe onbekend was maar saam met die stuk vee wat aangekoop was ingevoer word. Dit is nou die sluimerskiektes wat onbekend in skynbaar gesonde diere by die nuwe kudde ingebring word. Geen boer wat sy sout werd is sal ‘n oënskynlike siek of aangetasde diere aankoop nie. Dit is egter dié groep siektes wat in skynbaar normale diere kan wegkruip wat die koper maklik kan uitvang. Hierdie groep is gekenmerk deur die volgende eienskappe:

  • Hulle kan in skynbaar gesonde diere voorkom en kan vir lang tye onsigbaar wees.
  • Net één draerdier is genoeg om die siekte in die trop of kudde te vestig.
  • Dit is duur, en/of moeilik, en soms onmoontlik om van sommige siektes ontslae te raak.
  • Vir meeste van hierdie siektes is daar wetsimplikasies vir boere wat die siekte in hulle kudde het maar versuim om die teenwoordigheid daarvan tydens verkope aan te meld. In twee gevalle is verkope verbied (terwyl die siekte voorkom).

VAN WATTER SIEKTES PRAAT ONS?

  • Johne se siekte, wat met goeie redes deur boere gevrees moet word. ‘n Staatsbeheerde siekte.
  • Skaapvrotpoot, wat onderskei moet word teen sweerklou.
  • Jaagsiekte, alhoewel seldsaam, sal kudde permanent aantas.
  • Brandsiekte, onder staatsbeheer reëlings.
  • Kaasagtige limfklier absesse, moeilik om te beheer en uit te wis.
  • Weerstandbiedende wurmsoorte, veral haarwurm.
  • Ensoötiese aborsie, as dit ingebring word sal die ooikudde onbepaald geënt moet word.
  • Draaisiekte, waar die skaap ‘n breinsist ontwikkel – die volwasse lintwurm kom in honde en jakkalse voor.
  • Lewerslak, wat vleie met die regte tussengasheer permanent kan besmet.
  • Vuilbek, wat baie weerstandbiedend is en by krale of vervoer oorgedra mag word.
  • Hartwater bosluise, indien met die organisme besmet, kan plase besmet.
  • Luise, beide rooi en blou, wat maklik oor die hoof tydens skoue en vendusies gesien kan word.
  • Ander bosluise soos die Karoo verlammingsbosluis kan onopsigtelik tydens skaap- of bokveilings versprei word.

Hier word die belangrikste dertien bedreigings gelys waarvan die boer bewus moet wees – daar is meer!

HOE WORD RISIKO’S VERMINDER?

Elke siekte het sy eie maatreëls maar die volgende geld as algmene beginsels wat tydens veeverkopings gevolg moet word.

  • Moenie van onbekende bronne koop nie, en beperk die getal plase van waar skape bekom word. Al te dikwels koop ons by algemene veilings meer as net skape – ons koop onbewus ook siektes in! Die bron moet betroubaar en bekend wees.
  • Ondersoek diere te koop sorgvuldig – die gesig, vel, kloue en geslagsorgane moet veral goeie aandag geniet.
  • Kwarentyn aankope in afsondering op beton/gruis en nie gras nie vir 6 weke.
  • Al word daar gesê dat die diere reeds vir bepaalde siekte geënt was, ent weer vir gemoedsrus.
  • Dip diere met geregistreerde middels wat uitwendige parasiete sal uitwis.
  • Doseer met die beste beskikbare wurmmiddels en doen mis eiertellings 10 dae later om te verseker dat teenwoordige wurms verwyder is.
  • Bekom deskundige advies en aanbevelings by die naby geleë veearts wat meer besonderhede kan verskaf.
  • Dring aan op ‘n verkopersverklaring (Vendor Declaration) van die voornemende verkoper. Dit is die koper se reg en plig om hierdie inligting te vereis voordat diere gekoop is. Indien die verkoper weier, kan die voornemende koper sy eie gevolgtrekkings maak. ‘n Voorbeeld van ‘n goedgekeurde verklaring vir Johne se Siekte word aangeheg en behoort altyd deur kopers van lewende skape vereis te word.
BPC REPORT 4: 1.2.0 Free 28/03/2024 10:11:27 Deactivated Has SSL Checklist Table Built